
=====================================================================
Hoe stewig is die handevat? (AV 5:2)
=====================================================================

Inhoudsoorsig


Hoe stewig is die handevat?

Die verhouding tussen Nederlands- en Afrikaanstaliges het meer kante as waarvan kennis geneem word, s Gawie Keyser.

OM insig in die leeskultuur van die Lae Lande se deursnee-bewoner te kry, kan jy voor sy rakke in die studeerkamer op 'n wreldreis gaan: 
daar staan die Duitsers langs die Russe wat, swaarlywig in die gedaante van Tolstoi, leun teen die eksoties uitgedoste Latyns-Amerikane, 
wat op hul beurt die slapband Penguins van die klassieke Engelse staande hou.

Op jou pad vind jy ook Suid-Afrika. Nog ietwat onwennig, maar toenemend selfversekerd: Riana Scheepers met 'n foto'tjie agterop die 
stofomslag van 'n   bundel waarvan die titel sommer in Afrikaans gelaat is; Etienne van Heerden,   wat vir die bewoners van die woon- of 
studeerkamer 'n vertroude makker geword het; A.H.M Scholtz, wat vir hulle Tannie Wonnie gegee het ...

Suid-Afrikaanse literatuur in die Lae Lande begin nou al so doodgewoon te word, s dr. Hans Ester,   'n bekende literator, dat die 
nuwigheid daarvan 'n bietjie verdwyn.

Vir doodgewoon word in Nederland hoef Suid-Afrikaanse skrywers -- met name Afrikaanse skrywers -- egter nie bang te wees nie. Hul 
"nuwigheid" sal nooit verdwyn nie, omdat hul aanwesigheid hier steeds begroet word met 'n grootoog verwondering oor Suid-Afrika en sy 
verhale, veral di in Afrikaans, daardie "snaakse taaltje", daardie "Nederlands van Afrika".

Al jare praat uitgewers en letterkundiges oor die moontlikhede van Suid-Afrika se literatuur in die Lae Lande. Hiermee word weliswaar 
bedoel dat die romans vertaal word, maar die debat gaan telkens ook oor die vraag of Nederlandssprekendes Afrikaanse werke nie sommer in 
Afrikaans kan lees nie. Die verbintenis tussen Afrikaans en Nederlands word dan ook by die debat betrek.

Op die onlangse "Boekenbeurs voor Antwerpen", waar Suid-Afrika vanjaar die hooftema was, het di aspek vreemd genoeg volstrek onbelig 
gebly. Die afwesigheid van 'n debat oor die Afrikaans/Nederlandse konneksie toon wel die huidige verwarring in Nederland en Vlaandere oor 
hoe om met die taalverwantskap om te gaan.

Dit het te make met die kloof wat tussen die verskillende Suid-Afrika-organisasies in die Lae Lande -- veral in Nederland -- bestaan. Ruweg 
kan hulle in twee kampe verdeel word: enersyds organisasies wat aan die anti-apartheidstryd deelgeneem het, andersyds groepe wat teen die 
kulturele boikot was en voortgegaan het om bande met hoofsaaklik blanke Afrikaanssprekendes te onderhou.

Hoewel ernstig gepoog word om die kampe tot 'n samewerkingsraamwerk te beweeg, verloop die kontak alles behalwe vlot. "Verligtes" beskuldig 
die "verkramptes" nog steeds daarvan dat hulle te veel aandag aan Afrikaans in Suid-Afrika bestee en te min aan die land se ander 
bevolkingsgroepe.

In 'n sekere sin is dit dus nie heeltemal politiek korrek om amptelik kulturele bande eksklusief met Afrikaans in Suid-Afrika te onderhou 
nie. Die heersende standpunt hier is dat Suid-Afrika uit veel meer bevolkingsgroepe as slegs Afrikaners en bruin Afrikaanssprekendes 
bestaan. Dat die Taalunie hom op Afrikaans gerig het deur in Desember slegs Afrikaanssprekende skrywers vir die literre rondreis deur die 
Lae Lande uit te nooi, het dan ook kritiek uitgelok. Die akademikus Kas Deprez, dosent in die sosiolinguistiek aan die   Universiteit van 
Leuven, skryf in die Vlaamse koerant De Morgen: "De Taalunie die   slechts Nederlands en Afrikaans wil bevorderen belandt in Zuid- Afrika 
steevast in de marge ['n leemte]."

Een van die misverstande in die verhouding tussen Suid-Afrika en Nederland vloei voort uit die verwagting in sommige kringe van die 
Afrikaner- elite dat Nederland hom in die taalpolitieke stryd vanselfsprekend aan die kant van Afrikaans sou moet skaar. Dit behoort egter 
duidelik te wees dat Nederland wat bilaterale bande betref, onmoontlik n bevolkingsgroep kan uitsonder.

Terug na bo

Sterk Nederlandse steun

Dit beteken egter nie dat dieselfde elite-kringe in Suid-Afrika nie op sterk Nederlandse steun sal kan reken indien Afrikaans op watter 
wyse ook onderdruk word nie. Uit akademiese kringe in die Lae Lande kan Afrikaans ongetwyfeld steun verwag, wat die veteraantaalkundige 
prof. Piet Paardekooper   van Leiden in 'n onderhoud met Die Burger kragtig bevestig het.

Di steun het te make met die geskiedkundige bande tussen Suid-Afrika en Nederland en met die akademiese konneksies op taal- en 
letterkundige gebied. Maar dit is ook 'n gevolg van Nederlanders se spontane belangstelling in die Afrika-taal wat so vertroud voorkom. Dit 
kan nie regtig gerasionaliseer word nie, behalwe miskien deur te gis dat dit te make het met die soort verbasing wat jy ervaar as jy iets 
van jouself in 'n eksotiese land herken.

Di verwondering, die verlede en die huidige akademiese bande hou belangstelling in Afrikaans in Europa lewendig, en vuur die gesprek aan 
oor die moontlikhede van stories in di taal in die Lae Lande. En ook hieroor loop die menings kwaai uiteen.

Iemand soos Henk van Woerden, Nederlandse outeur van die twee   Suid-Afrika-boeke Moenie kyk nie en   Tikoes,   sweer hoog en laag dat 
Nederlanders g'n woord Afrikaans kan lees nie. Aan die ander kant is daar letterkundiges in Nederland en Vlaandere wat daarop aandring dat 
hul studente die oorspronklike Afrikaanse tekste lees en wat meen dat "gewone lesers" dit ook sou kon doen as die boeke vir hulle 
beskikbaar was. Sulke dosente verklaar ook dat vertalings in beginsel "tweede beste" is.

Onlangs het die vertaler Robert Dorsman   in sy resensie van Vatmaar geskryf dat die leser liefs die oorspronklike naas die Nederlandse 
vertaling moet lees.

Afrikaans moet die stryd aanknoop teen 'n magtige krag: die moedertaal van die Nederlanders en Vlaminge. Hieraan is die Lae Landers, soos 
dit intelligente mense betaam, behoorlik verknog.

Uit 'n studeerkamer-wreldreis blyk dat Nederlanders romans uit alle windstreke lees omdat die boeke, danksy 'n goed geoliede 
vertaalmasjien, in hul eie taal beskikbaar is. Dit is dus nie nodig om jou uit te put met die Engelse tegnotaal van Tom Clancy nie.

As Nederlanders dan nie eens die moeite doen om die nuwe Tom Clancy in Engels te lees nie, maar wag totdat die vertaling op die mark kom, 
waarom sal hulle 'n nuwe roman van Etienne van Heerden in Afrikaans gryp as hulle weet   dit gaan vertaal word?

Diegene wat s dat Nederlanders Afrikaans as deel van hul eie taal beskou, moet maar probeer Afrikaans praat met die visboer op die 
Amsterdamse Albert Cuyp mark. N 'n frustrerende gebrabbel in Amsterdams en Afrikaans sal jy weliswaar jou garnale kry, maar moet di man 
nou iemand soos selfs Eben Venter se Afrikaans gaan lees?

Gesien die Nederlanders se merkwaardig diverse leeskultuur lyk die argument dat 'n vertaling altyd "tweede beste" is, nie sterk nie. Lees 
eerder die Deen Peter Hoeg in Nederlands as om sy meesterwerk   Smilla's gevoel voor sneeuw by jou verby te laat gaan.

Die verwondering oor Afrikaans en die groot akademiese belangstelling in sy letterkunde beteken wel dat oorspronklike tekste hier altyd 'n 
mark sal h (sien die sukses by die boekebeurs in Antwerpen).

Maar dink 'n oomblik na ... vertalings dien Afrikaans se belange beter as om Afrikaanse boeke aan 'n verkoper op die mark te probeer 
opdwing. Koos Vis sal Die uur van die engel graag in sy boekrak naas die res van die wreld se literatuur wil plaas, maar gaan hy Karel 
Schoeman se pragwerk ls?

Die romanskrywer John Miles   het op die vraag waarom Afrikaanse skrywers vertaal wil word, geantwoord: "Om nog 'n leser te kan bereik". 
Gawie Keyser   is vryskut-joernalis en Die Burger se korrespondent in Nederland.

Terug na bo

Hierdie blad: <http://www.afrikaans.com/av5213.html> Voeg kommentaar toe aan hierdie bladsy. Skryf gerus aan die redaksie.  Kopiereg (c) 
Stigting vir Afrikaans 1999     Blaai terug | Blaai om
.

Enige woord Al die woorde Presiese frase   /// Afrikaans Vandag -- April 1998 /// Afrikaanssprekendes, word onmisbaar! (AV 5:2) /// Ywer 
uit onverwagte oord (AV 5:2) /// Produktiewe aksies moet daaruit voortkom (AV 5:2) /// Leeskring-inspirasie (AV 5:2) /// Een bre 
Afrikaanse front (AV 5:2) /// Die antwoord op: Hoe leer ek Afrikaans? (AV 5:2) /// Op die stoep gaan hulle skater van plesier (AV 5:2) /// 
Afrikaans: 'n nuttige stuk gereedskap (AV 5:2) /// Afrikaans vir die Afrikane? (AV 5:2) /// Afrikaanse bewegings moet besin oor oogmerke 
(AV 5:2) /// 'n Woordlint van land tot land (AV 5:2) /// Afrikaans gryp uitdagings (AV 5:2) /// Hoe stewig is die handevat? (AV 5:2) /// 'n 
Gelukkige huis lok vele vriende (AV 5:2) /// In die ban van Karoo-Afrikaans (AV 5:2) /// Die wel en wee van 'n politieke tolk (AV 5:2) /// 
'n Reis van selfontdekking (AV 5:2) /// Nederlands wil Kaaps raakvat (AV 5:2) /// Taalvriendskap is nou moontlik (AV 5:2) /// 'n Briljante 
seun, Meyer (AV 5:2) /// Sonde met die Cravense bure (AV 5:2) /// PALJAS, paljas is die as nou af? (AV 5:2) /// Die smeerstorie (AV 5:2) 
///

